Vrydag 02 November 2012

'n Koel, droë plekkie

Mens sien dikwels op verpakkingmateriaal dat mens die item / produk op 'n koel, droë plekkie moet wegsit of bêre.  Ons almal is op soek na ons koel droë plekkie in die lewe, meeste van die tyd lewe ons in die veilige plekkie.  Dinge gebeur soms wat ons uit die plek in ons lewe wegruk, skielike dood, siekte of finansiële probleme, enige iets wat ons uit ons veilige plekkie uit ruk.

Ek kyk na my 4 jarige dogtertjie en hoe sy die lewe ervaar en LEWE.  Sy lewe dit voluit, sonder enige voorbehoud, haar koel, droë plekkie is veilig, is standvastig.  Sy weet waar om heen te gaan as iets pla, of as iets nie reg is nie.  Sy weet ons, haar ouers, is altyd daar vir haar.  Net so moet ons lewe, ons veilige plekkie by ons Hemelse Vader vind.  Ek weet dit is baie keer makliker gesê as gedaan, maar God is altyd daar vir ons, Hy omvou ons met Sy sterk arms en dra ons deur die moeilike tye, Hy neem ons na ons veilige plekkie toe, al wat ons moet doen is glo, vertrou en bid.

"Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red.  Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde.  Hy jubel en juig oor jou."  Sefanja 3:17

Hoop julle almal vind julle koel, droë plek by God die naweek.

Seenwense

Donderdag 26 Julie 2012

Laat die kindertjies na My toe kom!

Hi almal!


Hoop dit gaan nog sommer baie goed met almal! 


Net so kort stukkie uit Lukas wat ek met julle wil deel:


Lukas 18:15 - 17
"Die mense het ook kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak.  Toe die dissipels dit sien, het hulle met die mense daaroor geraas.  Maar Jesus het die kindertjies nader geroep en gesê: 'Laat die kindertjies na my toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.  Dit verseker Ek julle: Wie die konkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.' "

Is dit nie 'n pragtige en so waar stukkie nie?  Hoe verhinder ons, ons kinders om na Jesus toe te gaan?

1. Trots
Ons moet nie so trots wees dat ons nie kan sien dat ons kinders na God gelei toe moet word nie.  Die dissipels wou nie die kindertjies toelaat om na Jesus toe te gaan nie, net so moet ons as ouers nie te trots wees om te besef as ons iets doen wat ons kinders verhoed om na God toe te gaan nie.
"Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en hy wat nedering is, sal verhoog word"  Lukas 18:14

Ons moet soos kinders die koninkryk van God ontvang, en dit ook so oordra aan ons kinders.  

2.  Ons as ouers verduidelik nie mooi genoeg nie
Baie keer verstaan ons 'n stukkie baie mooi, maar ongelukkig kan ons dit nie noodwendig in eenvoudige taal oordra aan ons kinders nie.  Met die gevolg dat ons kinders nie verstaan nie en dat godsdiens en die pad na God moeilik raak vir hulle.  Kinders leer in eenvoudige, verstaanbare taal - alle boodskappe moet dus so oorgedra word.  Herhaaling is ook belangrik vir kinders, hoe meer iets herhaal word hoe makliker verstaan en onthou hulle.
Dit is wat ons Bybelklub pakkette so lekker maak - al die stories is so geskryf dat selfs die kleinste kleinding dit kan verstaan in maklike eenvoudige taal.  Dit is ook ideaal vir selflees vir jou ouer kinders.  Daar is vir elke storie ook 5 aktiwiteite wat die storie vaslê en 'n liefde vir die woord aanleer.

3. Beplanning
Is ons almal maar nie skuldig hieraan nie!  Ons het almal goeie bedoelinge maar om een of ander rede kom ons nooit uit by die beplanning om alles te realiseer nie.  As ons nie beplan nie kan ons nie die Woord van God behoorlik aan ons kinders oordra nie.  Gaan sit rustig en beplan wat julle wanneer gaan doen.
Ons pakkette is so uiteengesit om jou beplanning BAIE maklik te maak!

Inspirasie vir die nuusbrief hier gekry.


     

Vrydag 04 Mei 2012

Bybelstudie aktiwiteite

Hello almal!

So rukkie terug het ek op ons Facebook blad gevra wat julle in die volgende nuusbriefie wou sien, heelparty het gevra vir Bybelstudie aktiwiteite wat jy as ouer saam met jou ouer kind kan doen.

Ek het so paar idees vir julle bymekaar gekry en 'n ekstra gratis dokument vir julle opgestel!

Bybelstudie idees vir die ouer kind:

Dankbaarheidsboekie
'n Goeie aktiwiteit om saam met jou kind te doen is om 'n dankbaarheidsboekie saam te stel.  Kry 'n klein nota boekie, plakkers, glinsterstof en enige ander kuns benodighede om die boekies te versier.  Sit almal gemaklik om 'n tafel en versier jou persoonlike boekie.  Na die pret van die versier van die boekies kan julle gesels as 'n gesin wat dit beteken om dankbaar te wees.  Elkeen kry ook 'n beurt om iets waarvoor hulle dankbaar is te noem, daarna kan elkeen dit in sy / haar boekie neerskryf.  Die boekies moet nie te diep gebêre word nie, laat almal in die huis dit handig hou en probeer om elke dag ietsie neer te skryf waarvoor jy dankbaar was.  Dit is 'n goeie oefening in dankbaarheid en aanvaarding.
                                                                                     foto bron

Gebedsboekie
Gesels met jou kind oor die krag van gebed en wat dit beteken in ons almal se lewens, dat dit ons kommunikasie met God is, ons gesels met God as ons bid.  Laat elkeen 'n gebedsboekie opstel.  Skryf neer die datum en waarvoor daar 'n behoefte is om te bid.  Baie keer voel dit vir ons of ons net bid en bid en niks terug hoor van God af nie.  God is 'n God van liefde en beantwoord ons altyd, partykeer nie soos ons gedink het nie en partykeer moet ons wag vir iets om te gebeur, op Sy tyd en nie ons mense tyd nie.  Dit is belangrik vir kinders om te verstaan aangesien ons as volwassenes somtyds met dit sukkel!  Laat jou kind neerskryf waarvoor hy / sy gebid het en dan ook wat in hulle lewens gebeur het, bv.  hulle vra miskien om goed te doen in 'n toets en doen toe goed na hulle geleer het.  Dit is ook goed om 'n lysie te hê om ander gebedsversoeke vir maats en familie ook neer te skryf, so leer kinders die krag van gebed en dat ons vir mekaar moet bid.

                                                                                       foto bron

'n Bybelse uitkyk op die lewe
Iets waaroor ek baie passievol is, is dat my kinders 'n Bybelse uitkyk op die lewe moet hê.  Ons lewe in 'n wêreld waar ons almal sondaars is en slegs deur Jesus Christus se dood en opstanding verlossing kan beleef.  As Christene moet ons alles wat om ons gebeur in die wêreld deur 'n Bybelse lens beskou, m.a.w. ons moet alles vergelyk met die Woord van God.  So hoe kan jy as ouer dit bewerkstellig in jou huis?

1. Eet saam as 'n gesin, gesels oor dinge wat die dag gebeur het en beantwoord vra of lei jou kind waar nodig sodat hulle kan leer wat dit beteken om deur 'n Bybelse lens na die wêreld te kyk.
2. Lees saam Bybel - dit is so belangrik om 'n standvastige basis vir jou kinders te kweek en dit begin by die begin!  Lees saam Bybel!
3. Skep 'n atmosfeer in julle huis wat die Bybelse lens perspektief versterk, bv. as daar 'n ander motoris voor jou inry, moenie uitvaar nie.  Bly kalm!  Enige gedrag wat jy so uitleef in jou daaglikse lewe word deur jou kind geabsorbeer en hulle leer dat dit aanvaarbare gedrag is.
4. Jou kind moet ten alle tye voel dat hy / sy met jou kan kom gesels oor aspekte wat vir hom / haar pla. Skep 'n atmosfeer waar jy nie veroordeel nie, maar luister en raad gee.  Indien 'n optrede straf verdien dien dit ooreenkomstig uit en beweeg aan.

                                                                                foto bron

Ek gaan volgende week 'n briefie uitstuur oor idees om die kleinspan besig te hou terwyl mamma en pappa bybelstudie doen!


Maandag 02 April 2012

Paasfees Pakket en Messiaanse Seder Pakket

Paasfees is letterlik om die draai en om dit te vier wil ons graag die volgende twee gratis pakkette met julle deel!

'n Mini Paasfees pakket en 'n Messiaanse Seder pakket.  Laai gerus die twee pakkette af!  Indien jy sukkel met enige van die skakels laat weet my by  info@bybelklub.co.za en ek stuur dit as 'n pdf aan.

Geniet die pakkette en ek hoop julle het 'n wonderlike geseënde Paasnaweek!  Mag julle God se liefde en seën ervaar gedurende die spesiale tyd!

Maandag 20 Februarie 2012

Ons pakkette is beskikbaar op Kinderwerf!

Ek is so opgewonde om dievolgende met julle te kan deel!  Ons pakkette is nou individueel beskikbaar op die Kinderwerf webwerf!  Maand 1 se pakkette is tans gelaai, maar ons gaan gereeld nuwes byvoeg, so gaan loer gerus gereeld in!

 Die pakkette is beskikbaar teen R15.00 elk.

Besoek Kinderwerf vandag vir die individuele pakkette!

Trudie xx

Woensdag 25 Januarie 2012

Welkom by Bybelklub vir kinders!



Hallo almal!

"Die Here sal julle seën en julle beskerm;  die Here sal tot julle
redding verskyn en julle genadig wees;  die Here sal julle gebede
verhoor en aan julle vrede gee!"
Numeri 6:24 - 26


*Hoe werk Bybelklub vir kinders?*

Ons het almal honderde Kinderbybels by die huis, maar die stories, alhoewel dit Kinderbybels is, is gewoonlik so geskryf dat die kleinspan dit nie lekker verstaan nie.  Ons het dus die stories gesoek wat maklik verstaanbaar was, in taal wat die kleinspan kan verstaan en dus so die storie kan vaslê, dit is tog hoekom ons Bybelstudie met hulle doen!  Ons het ook gesoek vir 'n reeks aktiwiteite om saam met elke storie te gaan, sodat bybelstudie vir die kleingoed pret gaan wees, iets wat hulle kan onthou en wat by hulle die groot en almagtige liefde wat God vir ons het verstaanbaar sal maak.  So is die Bybelklub vir kinders toe gebore!


Die stories is almal deur die bekende kinderboekskrywer Martie Kruger geskryf, in 'n maklike verstaanbare taal, op 'n kleuter se vlak en enige moeilike begrippe word in eenvoudige taal vir hulle verduidelik.  Die stories werk ook lekker vir selflees deur jou Graad 1 of Graad 2 kind.

Die aktiwiteite is so uiteengesit dat dit nie vir jou 'n klomp geld gaan kos om dit te doen nie, meeste van die benodighede is algemene goedjies wat jy reed in die huis gaan hê.  Patrone is ingesluit waar nodig om alles net 'n bietjie makliker te maak!


Pakkette beskikbaar: 
Daar is 4 pakkette beskikbaar, elke pakket bestaan uit dievolgende: 
 15 Bybelstories (een vir elke week van die maand)

Geheuevers

75 Aktiwiteite (5 aktiwiteite per week x 15 weke)

Patrone

Ouergids

Kostes verbonde aan Bybelklub vir kinders:

Alle pakkette is slegs R50 elk! Jy ontvang dus al bogenoemde 75 aktiwiteite en 15 stories vir slegs R50.00
 
 Hoe koop jy 'n pakket?
 
1.  Besluit watter een van die 4 pakkette jy in belangstel, vind die lys van stories in elke pakket hieronder.
2. Epos ons by info@bybelklub.co.za met jou keuse, ons sal 'n faktuur aanstuur met al die besonderhede.
3.  Sodra ons bewys van betaling ontvang het sal jy die produkte elektronies ontvang.   



Laai gerus ons gratis goedjies hier af!  Jy sal ook 'n gratis storie van Jona en die vis hier kry.
 
Pakket opsies:
 
Pakket 1
Skepping 1 en Skepping 2 
Adam en Eva 
Moses 
Dawid en Goliat 
Maria en die engel
Johannes die doper 
Jesus in tempel (as Seun) 
 Dissipels 
Blinde man
Twee Bouers
Noag 
Toring van Babel 
Abraham
Jakob en Esau   
 
Pakket 2
Josef 
Moses (baba en kind) 
Moses (ouer) 
Plae in Egipte 
Tien Gebooie 1 en 2
Dawid en Jonathan 
Saul 
Salamo 
Daniel 
Vrugte van die Gees 1 - 5  
 
Pakket 3
 Samuel 
Joshua
Simson
Elia
Weduwee se olie (2 Kon. 4) 
Bergrede 
Gelykenis van Sout 
Elisa 
Skatte in die hemel
Twee paaie
 Jesus maak 'n storm stil 
Beloning Mat 10:40
Gelykenis van die Saaier 
Gelykenis van die mostertsaad
Jesus loop op die see
 
Pakket 4
 Jesus seën die kindertjies
Arbeiders in die wingerd 
Gelykenis van die muntstukke
Julle moet luister (Lukas 4: 21)
Vyf brode en twee vissies
 Lasarus
Ware Wingerdstok (Joh 15)
Vrug van die vryspraak (Rom 5)
God is liefde (1 Joh 4:7)
Genesing van die verlamde man
Jesus word gekruisig
Jesus word begrawe
Jesus se opstanding
Jesus saam met dissipels na opstanding
Jesus se hemelvaart