Vrydag 02 November 2012

'n Koel, droë plekkie

Mens sien dikwels op verpakkingmateriaal dat mens die item / produk op 'n koel, droë plekkie moet wegsit of bêre.  Ons almal is op soek na ons koel droë plekkie in die lewe, meeste van die tyd lewe ons in die veilige plekkie.  Dinge gebeur soms wat ons uit die plek in ons lewe wegruk, skielike dood, siekte of finansiële probleme, enige iets wat ons uit ons veilige plekkie uit ruk.

Ek kyk na my 4 jarige dogtertjie en hoe sy die lewe ervaar en LEWE.  Sy lewe dit voluit, sonder enige voorbehoud, haar koel, droë plekkie is veilig, is standvastig.  Sy weet waar om heen te gaan as iets pla, of as iets nie reg is nie.  Sy weet ons, haar ouers, is altyd daar vir haar.  Net so moet ons lewe, ons veilige plekkie by ons Hemelse Vader vind.  Ek weet dit is baie keer makliker gesê as gedaan, maar God is altyd daar vir ons, Hy omvou ons met Sy sterk arms en dra ons deur die moeilike tye, Hy neem ons na ons veilige plekkie toe, al wat ons moet doen is glo, vertrou en bid.

"Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red.  Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde.  Hy jubel en juig oor jou."  Sefanja 3:17

Hoop julle almal vind julle koel, droë plek by God die naweek.

Seenwense