Dinsdag 08 Januarie 2013

Saam met God in 2013

Die feesseisoen is nog skaars verby en ek is klaar moeg.  Nie net fisies moeg nie, diep-moeg.  Daar is nog steeds wasgoed om te doen, kos om te kook, huis om skoongemaak te word, vuil gesiggies om af te vee. Ek kla nie, dit is 'n seën vir my om dit te kan doen, dit is 'n seën vir my gesin dat ek dit kan doen, maar êrens tussen 'n vuil doek en 'n stofsuig sessie het ek begin wegdwaal van my Vader se voete af.  Die dae raak korter en die diep-moeg dieper en die tyd by my Vader minder.

Ek hang wasgoed op en die wind waai saggies,  'n kalmte kom oor my.  God is hier by my, tussen die wasgoed.  Die wind waai en ek kan asemhaal, ek besef net weer dat om die jaar 'n sukses te maak, om te kan LEWE die jaar moet ek dit saam met God doen, moet ek tyd spandeer by Sy voete, moet ek tyd maak.  So al is dit tussen die wasgoed ophang en stryksessies deur, moet ek bid, gedurig bid.  Tyd inruim vir God se Woord in my lewe.

Kom ons maak Bybelklub se lese vir die jaar "Lewe saam met God" - ek gaan dit myne maak.  Ek gaan IN God, DEUR God, MET God en SAAM met God lewe, elke dag, want dit is al hoe ek die vrou, mamma, dogter, suster en vriendin kan wees vir die mense wat ek liefhet, die vrou wat hulle verdien in hulle lewens, die vrou wat God wil hê ek moet wees.

"Die Here my God gee vir my krag.  Hy maak my voete soos die van 'n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. "  Habakuk 3: 19

Ek daag almal vandag uit om elke oggend na Bybelstudie {of in die aand :) } op on Facebook muur te kom deel wat julle gelees het / geleer het.  Dit sal vir ons almal inspireer!

My gebed is dat 2013 'n ongelooflike jaar vir julle sal wees, dat julle God se rykste seën elke dag sal ervaar, Sy oneindige liefde elke dag sal beleef en dat julle sal lewe saam met God.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!