Donderdag 01 Augustus 2013

Verantwoordelikheid - praktiese idees vir jou kind

Hello almal

So rukkie terug het ek weer opnuut besef dat ek vir my nou 5 jarige 'n bietjie meer verantwoordelikheid in en om die huis moet gee.  Ons het besluit om vir haar 'n klein sakgeldjie ook te gee aan die einde van die week en sodoende leer sy hoe om te spaar en dan die geldjies te gebruik om te koop wat sy graag wil hê.  Die waarde van geld en verantwoordelikheid is belangrik om van kleins af vas te lê.

Ek het 'n bietjie navorsing gaan doen oor hoe om verantwoordelikheid en take prakties te implimenteer vir 'n kind van so 4 - 6 jaar oud.  Ek het besef daar is 'n paar belangrike feite wat jy moet onthou VOOR jy enige iets implementeer:

1. Jou kind moet weet wat jy van haar verwag - verduidelik presies wat 'n taak behels en leer hulle eers. Dit sal baie frustrasie aan beide jou kant en jou kind se kant verminder.

2. Moenie verwag dat jou kind dit met die eerste keer perfek gaan doen nie, die bed sal definitief nie "army" hoeke hê nie!  Soos enige iets anders in die lewe moet jou kind 'n taak 'n paar keer afhandel en oefen voor dit na verwagting sal wees.

3. Dit is so maklik om die heeltyd te wil korregeer, maar vervang die gedrag in jouself as ouers om eerder te prys as die heeltyd te korregeer.  Die resultate sal uitstekend wees!

4. Vir my is die punt seker die heel belangrikste punt - JY MOET 'n VOORBEELD STEL!  As jy nie jou take met 'n glimlag verrig nie, en kom ons wees nou eerlik, om te staan en stryk is nie lekker nie, sal jou kind dit sien en daar sal 'n idee ontstaan dat dit okay is om uit te stel, af te stel, ens. Vra God daagliks vir hulp hiermee, om geduldig te wees en om vir jou kinders 'n goeie voorbeeld te wees.

Wat kan jy van 'n kind van so 4 - 6 jaar oud verwag?
1. Laat hulle, hulle kamer self opruim.
Wys eers wat jy verwag hoe 'n skoon kamer lyk, werk saam die eerste paar keer en gee dan die taak oor.

2. Uitsuig en vloerwas
Laat hulle begin om stoele en klein areas te help suig, let wel - help!  Hulle kan ook kleiner areas was met 'n mop.

3. Plante natmaak
Kry 'n klein gietertjie of beker vir hulle, ons het sommer 'n melkbottel in die helfte gesny vir die doel.

4. Klere opvou
Laat hulle help om wasgoed op te vou, bv.  onderklere soos sokkies, handoeke, ens.

5. Laat hulle help om klere weg te pak
Ek vra ook my dogtertjie om te help om die klere uit die tuimeldroer uit te haal.

6. Afstof
Kleintjies kan maklik help om oppervlakke op hulle hoogte af te stof, hulle geniet dit gewoonlik ook baie!

7. Deur handvatsels skoonmaak
Gee jou kleinding 'n lappie en laat hulle die deur handvatsels afvee

8. Afdek van die tafel na ete

9. Skottelgoed wasser help uitpak / skottelgoed afspoel
Wees net versigtig vir skerp voorwerpe

10.  Hulp met maaltyd voorbereiding
Laat hulle help met skil en afspoel van groente

Lees meer hier vir idees vir jonger kinders:   http://raisingcleverkids.blogspot.com/2011/10/reward-chart.html