Vrydag 28 Maart 2014

Ek het onlangs hierdie storie gedeel op ons Facebook blad. Baie mense het aanklank gevind daarby, so ek deel dit weer hier op die blog:

Vanoggend is ek winkel toe en stap agter my twee aan wat saam-saam 'n klein winkeltrollie stoot. 'n Oom en tannie volg ons met hulle oë. Ek skat hulle in hul 80's. Toe ons by hulle verby stap sê die oom vir my: "Wanneer jy ons ouderdom is sal jy agter kom dat hierdie (en hy wys na my en die kinders) die beste jare van jou lewe was. Geniet dit!"

En dis so waar. Een dag sal jy al die tyd in die wêreld hê om jou kaste reg te pak, om jou boekrak alfabeties te rangskik, jou vloere blink skoon te hou en die klein handmerkies van die mure en vensters af te skrop, op datum te bly met die wasgoed en die skottelgoed, maar hierdie dae waarin jy daardie klein lyfies kan vasdruk, hulle alles in die lewe is en net saam met hulle kan wees gaan nie weer verby kom nie.

Ek het nog nooit 'n jong persoon raak geloop wat sy ouers se lof besing omdat die huis altyd silwer skoon was nie. Kinders onthou die tyd, liefde en aandag, die saam speel en saam werk, dat hulle spesiaal is en 'n belangrike rol in die gesin vervul, maak nie saak hoe klein!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!