Maandag 19 Mei 2014

Maandag oggende!





Vanoggend staan ek in die waskamer. Ek probeer die laaste vuil kolle uit die kinders se klere was. Aan my regter kant is vuil skottelgoed wat ek nog nie by uitgekom het nie, links van my al die skoon skottelgoed wat oornag ge’drip-dry’ het wat wag om weggepak te word. Ek voel ‘n sug aan die kom, dit voel asof daardie perfekte, alles onder beheer ma, altyd net buite my bereik is. Soms beleef ek ‘n goeie dag waarin ek ure staan en opvang, maar daar is altyd net nog.


Die sug ontsnap my longe soos ek die koekie seep vryf op die vuil kol op my oudste se langbroek, die broek wat sy aangehad het toe sy die bouery se sand hoop net tè aanloklik gevind het en in ‘n glyplank verander het.


Ek tel my jongste se nagklere op, die een waaraan sy haar handjies afgevee het nadat sy met soveel trots haar eie broodjie ‘help’ maak het en skrop sy vuil kolle.


Dit laat my skielik terug dink aan my eie jonk wees dae. Ons wasmasjien het gebreek en buiten die feit dat dit amper ‘n hele dag gevat het om al die water van die vloer af te mop, moes my ma alles vir ‘n hele paar weke met die hand was. 


Skielik kry ek haar jammer en dink dat as my wasmasjien moet breek gaan koop ek dadelik ‘n nuwe een. Daardie tyd was dit anders, daar was nie geld vir ‘n nuwe een nie. Maar hoekom onthou ek ‘n stukkende wasmasjien? 


Want met ‘n groot gejil en gejuig het ons kinders die vuil wasgoed in die bad getrap, ons het gehelp om die water uit die ligte klere te druk, my ma het arms van staal wat die dikste bad handdoek kon droog druk en ‘n wasmasjien se spin siklus sal laat bloos. Ons het ook beurte geneem om die sputnik te spin op dae wat daar min goedjies was (wat my laat wonder of daar ooit min goedjies is in ‘n gesin van 5) Maar vandag kramp my hande teen die derde item!


Ek onthou ‘n gesprek ‘n paar jaar gelede met iemand wat my vertel het dat sy nie weet hoe om met die hand te was nie want niemand het haar ooit gewys nie, daar was altyd bediendes en die klere was altyd skoon in die kas, hoe hulle daar gekom het weet nugter.


Dis toe wat dit my tref. 


Mens hoef nie ‘n sent uit te gee of etlike kilometers te jaag elke naweek om mooi herinneringe vir die kinders te help kweek nie, want herinneringe is op gesluit in die saam doen oomblikke waarin ons as gesin mekaar help en leer en net mekaar se geselskap geniet.


Want een ding is seker, ek kan nie onthou of daar ‘n laag stof oor alles in ons huis gelê het toe ons jonk was nie, maar ek onthou my ma wat reg langs die bad gesit en saam met ons gelag het oor die wasgoed in die bad trap episodes en elke keer as ek met my hande in die water staan en skrop aan klere vol kolle van herinneringe van hul eie gaan ek terug op ‘n reis deur my eie klein tyd dae, terug by die huis saam met my ma.


So toe gaan grawe ek in die wasgoedmandjie vir sokkies en maak ‘n kommetjie vol lou-warm water met waspoeier in, en net daar maak ons sommer ‘n paar herinneringe!








***


Ek was besig om hierdie storie uit te tik, met ‘n skouer kloppie vir goeie herinneringe en ‘n leersame een daarby, toe ek ‘n kraan hoor loop met ‘n paar gille, eers benoud en toe van lekker kry. Die kommetjie water het die kinders aangemoedig om nog water te vind om in te speel. My oudste draai die buite kraan oop om nog water te tap en dis toe wat die kraan vashaak dat mamma met ‘n ‘monkey wrench’ dit nie eers weer kon toe kry nie. Die gevolg was soveel pret, ek het net sit en lag. Daarna ‘n vuil vloer en bad en twee moeë kinders propvol herinneringe!


xx M

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!