Dinsdag 29 Julie 2014

Julie Uitdaging - Dag 30




Woensdag, tweede laaste dag!

As jy deelgeneem het in meeste van die Uitdaging wil ek graag van jou hoor, ek wil graag ‘n paar blog inskrywings maak wat geskryf is deur mamma (of pappas) wat hulle ervaring van die uitdaging met ons deel. As jy graag een van hierdie blog inskrywings wil skryf en ‘n paar fotos deel laat weet my gerus via epos!

Onthou om aan te hou glimlag, gee ‘n drukkie en vertel iewers deur die dag vir jou kinders dat jy lief is vir hulle en luister!

Opdrag vir Dag 30: Vertel ‘n storie!

Vandag gaan ons vir elkeen van ons kinders ‘n storie vertel, maar nie net sommer enige storie nie. Jy gaan vir jou kind die storie van sy of haar geboorte vertel.

Nou nie die details en definitief nie die “pyn en lyding” in oortreffende trap nie, maar die emosies, die afwagting van swanger wees, die bekommernis en opwinding en dan van die dag, die gesiggie, die kleine handjies en voetjies, die dankbaarheid, die liefde.

As jy foto albums het, gaan dit met elkeen deur, vertel die storie agter van die foto’s. As jy soos ons nog net nie tyd gekry het om ‘n album te maak nie (ai, nou is dalk ‘n goeie tyd om so ‘n projek aan te pak!) gaan dan deur die foto’s op die rekenaar, maar vermy goed soos “toe was jy nog oulik/soet/gehoorsaam” Hou dit lig en positief!

xxx

Ek is mal daaroor om van julle te hoor, los 'n boodskap of stuur 'n epos (info@bybelklub.co.za) en vertel my hoe maklik of moeilik vandag se uitdaging vir jou was!

xxx

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!