Maandag 07 Julie 2014

Julie Uitdaging - Dag 8




Dinsdag. Jy het dit al deur ‘n hele week gemaak! Mooi so!

Moenie bekommerd wees as jy uitgemis en nou eers by ons aansluit nie, val net in!

Onthou om aan te hou glimlag, gee ‘n drukkie en vertel iewers deur die dag vir jou kinders dat jy lief is vir hulle!

Vandag gaan ons byvoeg by ons daaglikse lysie, die glimlag, drukkie, lief vir jou lysie deur:

Opdrag vir Dag 8: Luister

Ons  kan soms so besig raak en ‘multitask’ is die nuwe ‘buzz’ word. Soos enige goeie vrou kan ek kos maak, skottelgoed was, die wasmasjien aansit terwyl ek ‘n lopende gesprek deur whatapp voer met ‘n vriendin, my eposse kyk en facebook – tussen deur vra ‘n klein stemmetjie my om gou te kom help en ek antwoord “Gee my net gou ‘n kansie, jy kan mos sien ek is besig” of die ergste “ek kom nou…” maar 10 minute later het ek skoon vergeet.

Ek het baie goed daarmee geword om te lyk asof ek op let wanneer ons oudste begin met een van haar stories, “uhmmm, ja, sjoe, wow” maar eintlik hoor ek niks, ek tik ‘n boodskap, lees ‘n blog – ek hoor haar praat ja maar ek volg glad nie saam nie en maak net die regte geluide om dit te laat lyk asof ek oplet.

Die ander dag wil ek haar iets vertel wat vir my belangrik was, iets wat gebeur het wat ek met haar wou deel, sy luister “uhmmm, ja, sjoe, wow” terwyl sy nie eers opkyk van waarmee sy besig was nie. Dis nou ongeskik skree dit in my kop, ja, nes nou die dag toe sy haar storie vertel.

Kinders leer vinnig wanneer ons dink sekere van hulle gedagtes is net nie belangrik genoeg vir ons volle aandag nie, maar elke gedagte wat hulle het is vir hulle so belangrik dat hulle dit met ons wil deel, as ons aanhou op daardie trant gaan ons kinders binnekort niks meer vir ons vertel nie want hulle weet nie wanneer ons iets belangrik genoeg sal ag om te luister nie, so om teleurstelling te voorkom gaan hulle maar net hulle gedagtes vir hulself hou. Dis dan wat ons staan en wonder hoekom ons kinders nie meer met ons wil praat nie.

So vandag, luister as hulle praat, want wat hulle het om te vertel is vir hulle net so belangrik. 


xxx

Ek is mal daaroor om van julle te hoor, los 'n boodskap of stuur 'n epos (info@bybelklub.co.za) en vertel my hoe maklik of moeilik vandag se uitdaging vir jou was!

xxx


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!