Maandag 22 September 2014

'n Uitdaging






My vriendin het oor die naweek ‘n uitdaging aan my gestel, al brommend en grommend het ek dit aanvaar en besluit dat die enigste manier wat ek dit gedoen gaan kry is as ek vroeër opstaan en dit doen voor die res van die mense in my huis wakker word.


Ek stel die wekker en gaan slaap, maar rol die hele nag rond. Vanoggend toe die wekker af gaan voel dit asof ek nog skaars geslaap het, ek druk die wekker dood en rol om, vas oortuig dat ek dit verdien om eerder nog ‘n bietjie te slaap, wie sal nou weet? Dis nie asof ek my plan met enige iemand anders gedeel het nie, solank ek net die dinge gedoen kry voor die einde van die dag!


Natuurlik pla my gewete my en ek staan saggies op. In die stilte van die huis doen ek my uitdaging vir die dag en hark sommer my Bybel stukkie vir die dag ook nader. Daar is iets so spesiaal daaraan om eers aandag aan myself te gee. As ‘n mamma word jy altyd vertel dat jy tyd moet vat vir jouself, of ‘me time’ soos die Engelse dit stel. 


Maar hier is iets wat ek vir ‘n feit weet: As ek oorweldig voel en dit op my man en kinders begin uithaal kan ek maar net gaan kyk na my roetiene, as ek al prentjies kan teken in die stof op my Bybel dan weet ek waar hierdie gevoel vandaan kom. 


Psalm 62: 2 Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.


Dis so maklik om dit te vergeet en dan rond te hardloop opsoek na rus in wêreld se dinge, glo my, ek was al by die haarsalon, vir ‘n “mani en pedi”, op ‘n inkopie veldtog en elke keer laat dit my leeg, platsak en onvervuld of ek voel beter vir ‘n klein tydjie en dan maar weer die volgende ding probeer.


Daar is net een plek waar ons elke keer dieselfde verkwikking vind, tog is dit die maklikste om verskonings te vind vir hoekom daar nie nou tyd is nie, dit heel onder aan ons prioriteitslys te sit, dan maar terug staan en kyk hoe ons lewe ‘n gejaag na wind is en wonder hoekom dit so is.


So hiermee, ‘n uitdaging van my eie: Ek daag elkeen van julle uit om vandag en vir die res van hierdie week God eerste, daar waar Hy hoort, te plaas op julle prioriteitslys.

xxxM

Maandag 01 September 2014

Lente Dag 1 September 2014








Gelukkige Lente Dag!

Vanoggend toe ek regop sit in die bed en die dagstukkie vir vandag lees, vang my oog die opkoms van die son. Die eerste sonsopkoms van die lente, gaan dit deur my gedagtes, ‘n vernuwing, ‘n nuwe dag, ‘n weer-begin.

Ek spring uit die bed met nuwe moed, reg om al die dinge van die dag aan te pak. Ek gooi die vensters oop, want vars lug is wat ons nodig het, sjoe maar die windjie het ‘n effens byt in hom! Seker nog die sneeu van verlede week wat op die bergtoppe lê, maar ek is vasbeslote om die meeste van hierdie lente dag te maak.

Dan val dit my by; elke dag is ‘n nuwe dag. Elke oggend as ons weer ons oë oopmaak is dit nóg ‘n geleentheid om weer te probeer, beter te wees as wie en wat ons gister was.

Maar daar is net een manier om dit te doen. Ons moet meer bid, meer Bybel lees en bereid wees om te gaan waar die Here ons lei, selfs al is dit die kronkelpad wat bitter min ander mense op is.

Romeine 12:2 “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Soos elke lente die wêreld rondom ons weer verfraai met blomme en nuwe groei aan die bome, is my hoop vir elkeen van julle vandag ‘n vernuwing binne julself.

Laat ons alles wat ons vandag aanpak tot eer van God doen. 1 Korintiërs 10:31 “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

Moenie vergeet om vandag te bid nie, want God het nie vergeet om jou vanoggend wakker te maak nie!

xxM