Maandag 23 Februarie 2015

'n Jaar verby!



Dis hierdie week presies ‘n jaar vandat ek Bybelklub vir Kinders oorgeneem het. So baie dinge het gebeur in die afgelope jaar, beide goed en sleg. Daar was soveel drome en ideale met die oorneem van Bybelklub en soms in die aande as ek stil raak verloor ek moed oor nog nie een van daardie drome of ideale vervul is nie.

Die grootste gebeurtenis tydens hierdie jaar by Bybelklub was die 31 dae uitdaging wat gehou is. Die terugvoering was wonderlik, maar agter die rekenaar skerm het dinge heel skeef geloop. Veral my geloof is in hierdie tyd getoets.

‘n Jaar terug was ek die mamma van ‘n 4 (amper 5) jarige wat besig was om haar voete te vind en haar rol as ousus met ‘n paar harde lesse te probeer vervul. En ‘n baie afhanklike 1 jarige wat elke 2 ure deur die dag wou borsvoed, besig was om te veg vir haar plekkie in ons huis en al die dinge nog moes leer wat baie tyd en aandag verg.

Ek het geweet dat dinge eendag beter gaan wees, dat ek weer tyd gaan hê vir al die dinge wat vir my belangrik is en net soos daardie tyd begin aanbreek het – die tyd waarin ons 5 jarige ‘n goeie ousus geword het en die twee dogtertjies mekaar ure lank kan besig hou en my 2 jarige my nie meer so nodig het nie – skop daar nou ‘n baba boetie vir twee sussies binne my, ‘n geskenkie van bo.

En weereens besef ek dat daar dalk nog ‘n jaar voorlê waarin dinge nie heeltemal gaan uitwerk soos wat ek dit sou wou hê nie. Tog is my hart oorvol want ek weet nou dat wat ek dink goed is en wat die Here vir my en my gesin beplan het kan dalk twee heel verskillende dinge wees!

Ek gaan biddend voort op die pad. Soms voel ek ‘n diep behoefte om ‘n paar woorde of ‘n gedagte te deel wat in my hart rond bons en as dit Sy wil is gee Hy my dan die tydjie wat nodig is om hierdie woorde neer te pen. Maar soos dit in die Bybel geskryf staan is my prioriteite baie duidelik uiteengesit.

My God, my man, my kinders en dan die res. Sommige dae vat daardie drie goed al my tyd in beslag en selfs op daardie dae wat ek nie eers by die skottelgoed uitkom nie weet ek, dis reg, dis goed. Want ek kan dit sien in my hart, in my huwelik en in my kinders se oë, maar dit is so teenstrydig met wat die wêreld vir my wil vertel is belangrik.

Ek het baie lank gesukkel met die idée van “me time”. Hoe harder ek gesoek het daarna hoe minder het ek dit gevind. “Maar wat van my, wanneer kry ek ‘n kansie, wanneer kan ek doen wat ek ‘n slag wil doen.” Ek ek ek. Ooh die selfsug wat ek nou in daardie vrae raak lees, want ek weet nou, as my prioriteite reg en in orde is en alles en almal se behoeftes na omgesien is, dan kry ek rus, maar dis nie in die dinge wat die wêreld sê nie, as ek die wêreld se dinge na streef voel ek gewoonlik nog meer uitgeput as vantevore.

Rus word gevind aan die voete van die Here. Tyd vir my is daar wel as ek my siel verkwik met ‘n tydjie elke dag biddend en in die Woord. En as ek dit elke dag doen en dan in almal se behoeftes voorsien, soms, wanneer ek dit die meeste nodig het is daar ‘n warm bad en ‘n boek wat wag na ‘n lang dag!

1 opmerking:

  1. Dit is waar woorde. Ek het ook vir 'n ruk lank oorweldig gevoel met al die verantwoordelikhede, alles wat gedoen moet word, die wêreld daar buite en (sommige familie en vriende) wat aanhou hamer dat ek myself moet eerste stel.
    Ek het ook besef dat my krag van God kom, my bybelstudie is eerste gestel, my man daarna, en die kinders. Dan eers die wêreld, en skielik het ek ook tyd in die aand gehad om sommer net te lees, of storie te kyk saam met die seuns of pappa.
    Ek is op die oomblik weer besig om bietjie van die wa af te val, maar probeer om my prioriteite steeds in plek te hê. Daar is ook maar seisoene in mens se lewe, en God is altyd by ons.

    AntwoordVee uit

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!