Woensdag 28 Junie 2017

Dalk klink dit soos 'n storie...



Dalk klink hierdie soos 'n storie uit jou eie huis!

~~~~~~~~

Ek staan op van my stoel om ‘n glas water te gaan kry. Die oomblik toe ek my lig vanuit die stoel is een van die kinders honger. Ek stap kombuis toe en maak iets om te eet vir die honger siel. Oppad terug met ‘n bordjie vol hongerstil gly ek op ‘n prinses rok, wat ek net daar en dan op tel en op die trap neersit, dit hoort immers bo in die kamer. Die probleem is: die krat wat gewoonlik op die trap staan vol dinge oppad terug na hulle bestemming op die tweede verdieping is vol en daar is nie meer plek op die trap nie. Bo in die kamer met die krat aangekom sien ek iets wat in ‘n kas in ‘n ander vertrek hoort, ek is tog nou besig so ek neem die item na die kas net om uit te vind dat die kas oorloop.

Nou benodig ek ‘n ou plastiek sak om die oorloop van die kas in uit te gooi, dit wat ek nie meer benodig nie. Onder gekom het die kind sonder kos besluit sy is dors en dis ‘n dors wat slegs ‘n hot chocolate “soos mamma dit maak” hierdie dors kan les. Terwyl ek wag vir die ketel om te kook kom die besluit dat ek self sommer gou ‘n koppie koffie sal af sluk voor ek weer die kas in die kamer aanpak. Met die oopmaak van die kas met bekers, staar die waarheid van die onuitgepakte skottelgoedwasser my aan. Terwyl ek nou besig is kan ek netsowel die skottelgoed wat staan en drip dry ook in die kas in help. Wat my die pot laat sien wat ek definitief vanaand gaan nodig kry vir aandete so ek tap maar ‘n bak water en begin skottelgoed was.

Teen die tyd dat die skottelgoed klaar is kom die gekla: “mamma het van my hot chocolate vergeet” Nee ek het nie kap ek terug, daar was net eers iets anders wat my aandag geverg het. Sit maar weer die ketel aan. Klein stemmetjie uit die badkamer laat weet dat ek benodig word om boude af te vee. Terwyl ek nou in die badkamer staan kan ek darem sekerlik gou die toilet en wasbak ‘n skrop gee. Halfpad met die toilet onthou ek van die warm water wat staan en wag. Gaan maak gou hot chocolate maar nou wil almal kwansuis hê, nog ‘n beker en soek die sippy cup vir kleinboet – ah, natuurlik is dit die een ding waarby ek nie uitgekom het toe ek skottelgoed gewas het nie.

Ignoreer die stemmetjie wat my probeer keer en gee vir kleinboet sy "hot choccie" ook maar in ‘n beker “nes sussie”, terug na die toilet, skaars daar aangekom is daar ‘n gil uit die sitkamer en ‘n klomp woorde wat dit duidelik maak dat iemand ‘n groot gemors veroorsaak het.

Om ‘n baie lang, daaglikse, storie kort te maak kom ek dood moeg met bad tyd weer bo net om te sien dat die krat se inhoud die kinders se hele kamer vol lê asook elke prinsesrok wat ons besit. Die kas wat nog oopgestaan het, het net te aanloklik gelyk vir klein handjies en my bed is besmeer met allerhande roompies. Sleep die kinders deur die bad, skuif die krat se inhoud net genoeg om ‘n gangetjie na die beddens te maak. Kinders na ‘n storie in die bed en aan die slaap, gooi maar ‘n handdoek oor die gemors, môre is nog ‘n dag. Raak aan die slaap net om nog ‘n paar keer deur die aand wakker gemaak te word vir “boobie”

As môre kom gaan ek hierdie huis reg ruk en hoekom ek is so verskriklik dors?! Môre sal my man wonder hoekom die toilet borsel reg op binne die toilet staan!
 
Ek begin elke dag met goeie voornemens….

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Ons is mal daaroor om julle idees oor artikels te lees!