Dinsdag 29 Augustus 2017

Waar is jy?



Waar is jy? En waarmee is jy besig?

Ek vra my kinders hierdie vrae 'n paar keer 'n dag. Ek wil seker maak dat hulle elke kosbare oomblik wat aan hulle gegee is benut, nie 'n oomblik mors nie.

Hulle is nog klein, ons oudste het immers nou die dag eers 8 geword. Vir my is dit belangrik dat sy speel, haar kinderdae geniet, haar kreatiwiteit ontwikkel, stadig maar seker 'n paar verantwoordelikhede by kry en help waar dit nodig is. Ek verpes dit as my kinders hulle tyd mors aan onbenullighede! Tog is ek nie 'n baie goeie voorbeeld as dit by hierdie tipe ding kom nie!!

Ek gebruik die internet om navorsing te doen, idees te kry vir uitstappies en eenheidstudies vir ons tuisonderwys. Ons kyk videos aanlyn oor die onderwerp waarvan ons leer en ek het immers 'n paar besighede en groepe om aan die gang te hou!

Elke oggend gaan sit ek om net gou hierdie of daardie, as ek weer sien is daar ure verby en ek het nog niks vermag nie. Hoeveel meer kan ek gedoen kry elke dag as ek kon fokus op die een ding waarvoor ek by die rekenaar kom sit het?!

Soveel dinge trek ons aandag af, 'n liggie op ons selfoon wat flikker, die "ping" geluid van 'n nuwe epos wat wag, 'n nuwe boodskap op Facebook of nuwe kommentaar op ons foto van Instagram.

Ons oudste sê "Mamma is altyd op jou foon" sjoe en die waarheid maak my kwaai!! Ek is besig met werk sê ek dan, as dit die waarheid was sou ek nie so skuldig gevoel het nie. Ek het iewers gelees dat skuldgevoelens bloot jou onderbewussyn is wat jou aandag daarop probeer vestig dat iets nie reg is nie en dan natuurlik is kwaad word daaroor die ongemaklike gevolg van met die waarheid gekonfronteer word!

Ek moet harder daaraan werk om my filter te gebruik, my prioriteite neer te skryf en daarvolgens te werk maar dit kan ek nie alleen doen nie! En dit begin deur my dag op die regte manier te begin. Geen spa of optof sessie gaan my siel die rus gee wat ek benodig nie en my oë is op alles gevestig behalwe die dinge wat belangrik is!

Hoe vinnig is ons nie om ons tyd in die Woord op te gee in ruil vir iets minder belangrik nie. En hoe vinnig begin dinge dan nie hand uit ruk en ongebalanseerd wankel nie.

Ek voel 'n Stilte Tyd vir Mamma uitdaging op die horison, wie kom saam met my?

xxM